Stap 'n Entjie Saam

Deur Die Solder

Op 365 Spore

 


 

En Blaai Deur

My Dagboek

Vir 365 Dae 

 Plus  1

 

 

Skrikkeldag 

             365 Spore             

Daaglikse Geskiedenis vir 'n Jaar

 Skakels

KOMAAN!
 
Woorde: JAN F.E. CELLIERS
Musiek: DIRKIE DE VILLIERS
 
Wees sterk!  Daar's 'n nasie te lei,
daar's 'n stryd te stry, daar's werk!
Daar's nie na guns of eer te kyk,
daar's nie na links of regs te wyk,
daar's net te swyg en aan te stryk--Komaan!
 
Wees trou!  Daar's 'n volk te leer
om homself te eer, te bou;
om God en God alleen te vrees,
aan aard en taal getrou te wees,
gesond en waar van hart en gees--Komaan!
 
Wees fier op 'n voorgeslag waard,
in wil en in daad gespier!
Hul lewensweg het ons gewys
om trou te wees aan waarheidseis.
Wie laak mag laak, wie prys mag prys--Komaan!

 

Luister: Komaan!

 
 
 
 

(Slagveld - Majuba)

 

So sing die jonges vol van vreugde,
maar ag, oom Gert se hart is seer
as hy straks diep en dieper peinsend
gaan langs die slagveld van weleer.

 

Dáár lê Majuba, donker kleurig,
sy sye een en al terras;
dis of die berg van alle eeue
vir wonderdaad geskape was.

 

Daar lê Laingsnek; dis of Gods hande
dit vir 'n skanswerk uit wou bou.
En daar's Ingogo's kronkelbedding—
net om die vyand op te hou.

 

Daar's nog die wonderlike hoeke,
net om die vyand vas te keer;
maar ag, oom Gert voel nou so anders,
sy hart is onverklaarbaar seer.

 

Hy sien nou oral groot kanonne,
hy weet nie of die ding sal gaan.
Die treine voer nou alle soorte
van wapens uit die hoofstad aan.

 

Daar is hom ook so baie mense,
en baie goed word aangevoer;
voorheen was daar so min maar nodig:
'n ryperd, biltong en 'n roer.

 

Dis nodig, ja, die tyd die vorder,
en daarom swyg hy maar en kyk.
Maar heel die Amajuba-wêreld,
alles wil hom so anders lyk.

 

Tog leef hy weer, die troue krygsman,
al trek hy nou maar same net:
'n oorlogsperd die stamp en runnik
wanneer hy hoor die krygstrompet!

 

 

Uit Goue Gode

XV

Verse van Totius

 

KOM DANS KLARADYN

Woorde: C.F. VISSER
Musiek: S. LE R. MARAIS

[2x]
Kom dans Klaradyn, kom en dans weer met my
op maat van die aandwind wat wieg oor die wei.
Die blomme hul nooi ons, die feesmaal is klaar;
die sterretjies brand al, die maan is al daar.

[REFREIN]

Kom dans Klaradyn, kom dans Klaradyn,
kom en dans weer met my, weer met my
op maat van die aandwind wat wieg oor die wei,
op maat van die aandwind wat wieg oor die wei.
Kom dans Klaradyn, kom dans Klaradyn,
kom en dans weer met my, weer met my
op maat van die aandwind wat wieg oor die wei,
die aandwind wat wieg oor die wei.

[2x]
Vertel Klaradyn, kom vertel my dat jy
die koninginbruid van my hart ook gaan bly
as blomme verwelk en die weelde vergaan,
as sterre verbleek en verduister die maan.

[REFREIN]

Vertel Klaradyn, vertel Klaradyn,
kom vertel my dat jy my, dat jy
die koninginbruid van my hart ook gaan bly,
die koninginbruid van my hart ook gaan bly.
Vertel Klaradyn, vertel Klaradyn,
kom vertel my dat jy my, dat jy
die koninginbruid van my hart ook gaan bly,
die bruid van my hart ook gaan bly. 

Maar een Suid-Afrika

Gee my ‘n roer in my regterhand,
Gee my ‘n bok wat vlug oor ‘n rand –
En ‘n flukse perd om hom weg te dra:

Gee my Suid-Afrika.

Gee my ‘n kamp waar bossies groei,
Gee my ‘n fraai volstruis wat broei –
En ‘n Boerseun wat baie wa:

Gee my Suid-Afrika.

Gee my ‘n koppie om op te staan,
Gee my die Swartland met al sy graan –
En nooit of te nimmer hoor jy my kla:

Gee my Suid-Afrika.

Gee my ‘n vlakte ruim en wyd,
Gee my die veld se oneindigheid –
En die lekker geur wat die lug daar dra:

Gee my Suid-Afrika.

Uit: Gedigte
A.D. Keet
(1888-1972)

 

TROU


Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan;
Ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan;
‘n oog wat nie wyk,
wat ‘n bars kan kyk;
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipstaan staan –

vas soos ‘n berg van grou graniet
op vaderlandsgrond, sy hartsgebied,
aan haar getrou
soos aan kind en vrou,
en wat in haar ere ook syne siet.

Ek hou van ‘n man wat sy moeder eer
In die taal uit haar vrome mond geleer,
En die bastergeslag
In sy siel verag,
Wat, haar verstotend, hulself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ‘n traan nog ween
Vir ‘n heldedgeslag, in hul rus daarheen,
Maar ‘n blits van trou
In die traan van rou,
Wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.

Vir my die Afrikaner van durf en daad,
Wat Mammons eer en loon versmaad,
Sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land
En ‘n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ek hou van ‘n man wat sy man kan staan:
Ek hou van ‘n daad wat soos donder slaan;
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk;
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

Jan F.E. Celliers
(1865-1940)

Uit: Die vlakte en ander Gedigte; Nas Pers

 

Die Vierkleur

DIE VIERKLEUR IS WEER IN GEVAAR . . .

Kom, burgers, trek die perde reg;
Nou vrou en kind goeien – dag geseg!
Jongkêrels, los die nôi se hand;
En seuns, verlaat jul moeders, want
Daar gaan ‘n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels bymekaar –
Die vierkleur is weer in gevaar!

Die regterhand gryp die visier,
Die bors oorkruis ‘n bandolier;
Die spore in die sonskyn blink,
Stiebeuels teen mekaar weerklink,
Die ketel aan die saal rinkink.
Kom, burgers, hou nou bymekaar –
Die vierkleur is weer in gevaar!

Laat aan die trippelaar sy pas,
Maar hou die vuurge hingste vas.
Die agterstes moet ingalop
Tot binne – in die ruiter – trop,
Die ponie en die bossie – kop.
Kom burgers, ry so bymekaar-
Die vierkleur is weer in gevaar!

Trek burgers, almal nou geteld,
Al voort maar deur die wye veld,
En of jul al omlaag verdwyn,
Of op die heuwels weer verskyn –
Wys altyd weer die slingerlyn.
Kom, burgers, trek so bymekaar –
Die vierkleur is in gevaar!

En moet jul val, val dan met eer,
Met die oog die vyand toegekeer;
Val op die grense, man en perd,
Die oue vierkleur is dit wêrd,
En die eerkroon wenk al uit die vert.
Val burgers, val dan bymekaar –

Totuis

 

Die ruiter van Skimmelperdpan

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,
By ‘n draai in die mond van die kloof,
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof.


Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf,
Met ‘n laaste stuiptrekkende krag,
En die bene geklem soos ‘n skroef om sy lyf,
Op die perd sit die grusame vrag.


Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,
Soos die wind yl verbysterd die dier,
Met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,
En gespan soos ‘n draad elke spier;


By die huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk …
In die afkopding ken sy haar man …
Met ‘n onaardse geil val sy bleek soos ‘n lyk …
Perd en ruiter verdwyn in die Pan!


Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil
Waar bouvallig die huisie nog staan,
En vreesagtig by wyle ‘n nagdiertjie huil
By die newelige lig van die maan!


Want by middernag waai daar ‘n wind deur die kloof,
Waai en huil soos ‘n kindjie wat kerm,
En dan jaag daar ‘n perd met ‘n man sonder hoof …
Wie dit sien, roep verskrik: “Heer, ontferm!”


Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;


En dan eensklaps van uit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orent – ‘n waansinnige vrou
Met ‘n hande-wringend gebaar:


“Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ‘n einde kom … altyd maar weer
Die galop … die galop … die galop?!”


Die afgryslike klank – nog gehuil nog gelag –
En die perd met die romp van ‘n man …!
Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!


A.G. Visser
Uit: Die Purper Iris.

 

 

 

 

 

Footprints  

 Veranderings en Byvoegins word van tyd tot tyd gemaak.