RatelTaai Kattemaai

Laerskool Raslouw se eie koerant!

Eerste uitgawe ||| Maart 2020

Nuwe leerlinge 2020

Die Ratelmag het met veertien nuwe ratels taaier geword hierdie jaar!

Baie welkom julle!

Die Ratel Naskool

(Nie ń eerste nie, maar die enigste van sy soort!)

Klein spoortjies word getrap... groot spore word in ons harte gelaat.

Wie is die wenspan van Laerskool Raslouw? Verseker is dit die personeelspan van die naskool.

Met juffrou Sandra aan my linkerkant en Tannie Francina aan my regterkant kan ons al die opdraendes en afdraendes van die Naskool hanteer. Gelukkig is daar nie baie daarvan nie. Meer laggende gesiggies en drukkies. Hier help ons hartseer gesiggies weer lag.

Ons poog om in ‘n huislike atmosfeer die kinders te ondersteun met liefde asook baie dissipline.

Van die dienste wat aangebied word is onder andere:

  • Volle gebalanseerde ete.

  • Veilige toesig vanaf 12:40 tot 17:30

  • Toesig tydens huiswerk tussen 14:00 en 15:00

  • Die hoogtepunt by die naskool is natuurlik ‘koekies en koeldrank’ wat wissel van koekies, roomys en springmielies .

Elke tweede maand hou ons lekker partytjie vir al die maats wat in daardie twee maande verjaar het. Juffrou Sandra het in Februarie verjaar en ons het sommer groot partytjie gehou.

Elke middag voor ete bid iemand uit die spesifieke klas. Een van ons kleuters se gebed was nou die dag werklik uit haar hart uit, en het so gelui: ”Liewe Jesus, Baie dankie vir die lekker kossies. Liewe Jesus... ek weet nie hoe jy lyk nie, maar ek gaan jou eendag sien... Amen"

Ons deur staan oop vir almal. Kom kuier gerus.

Groete

Juf Ellie

Ons nuwe Ratelsnoepie

Ons nuwe snoepie is op 29 Februarie 2020, tydens ons groot atletiekbyeenkoms, amptelik in gebruik geneem! Baie dankie aan die OOV-lede en elke ouer wat met die oprigting en inrigting daarvan gehelp het!

Ons sien sommer baie uit na nog vele verkope uit ons ratelsterk Ratelsnoepie!

Ons enigste tweeling: Jessica en Caleb Myburgh

Ons eerste Ratelonnie – Profiel!

Ons skoolhoof: Juf Adri Peenz
Waar is u gebore? Kemptonpark
U gunsteling kos? Romerige pastadisse
Gunsteling kleur? Rooi of groen
Wat maak Juffrou opgewonde? Nuwe uitdagings en gelukkige kinders.
Wat grief juffrou? Stinkmuisvoertuie wat voor my ry!
Wat doen u vir ontspanning? Speel brug of kuier.
U gunsteling Bybelvers? Joh 3:16
Het juffrou ń spesiale boodskap aan die Raslouw Ratels?
Liewe Ratels,

Ons laerskool is hierdie jaar 21 jaar oud. Ek hoop dat julle saam met my opgewonde kan raak om 'n konsert saam met ons hoërskool op die planke te bring. Die uitdaging is dat ons iets heeltemal anders beplan as wat ons in die verlede gedoen het ten opsigte van ons skoolkonsert.

Ek is baie lief vir my rateltaai Ratels wat vir niks bang is nie.

Lees Psalm 91: 9-16

Waar kry die “Rateltaai Kattemaai’’ sy naam?

Op 17 Februarie 2020, tydens saalopening, het ons skoolkoerant sy naam gekry. Daar was sommer groot opgewondenheid daardie dag! Ongeveer 40 leerders het van die geleentheid gebruik gemaak om voorstelle in te dien ten opsigte van ons Ratelkoerant se naam; selfs 'n paar onnies ook. Daar was baie interessante idees; ons kan regtig spog met kreatiewe kinders.

Soos met elke kompetisie, kon daar egter net een wenner wees... en dit was juffrou Chané, ons Afrikaans-onnie. Dankie vir so ń oorspronklike naam Juffrou!
- Jade Steenkamp (Graad 6)

Eerste KWARTAAL:
Baie, taaie
ratelkattemaai

Mienke Wessels (Graad 3)

Boeresport! 25 Januarie 2020

Volgens die jarelange skooltradisie, het ons weereens hierdie jaar ń pretdag vol bokke-boeresport beleef!

Onder die knap organisasie van juffrou Elmarie, het die dag prettig en vlot verloop. Hierdie jaar het die Elande met die wenbeker weggestap! Volgende jaar gaan Koedoe se kind dalk weer vir Eland op sy neus laat kyk.

Anja Nel (Graad 3)

Carousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel image

Lekker, lekkerder, LEIERKURSUS!

31 Januarie 2020

Die leiers van Laerskool Raslouw het op Vrydag, 31 Januarie 2020 na skool bymekaargekom om die nodige kennis en vaardighede van leierskap baas te raak.

Hierdie opleiding is deur juf. Adri Peenz (skoolhoof) aangebied. Aan die begin van die opleiding het juf. Adri vir elke leier ‘n gedeelte uit die Bybel gegee wat hulle onderskeidelik moes gaan opsoek. Daarna was daar vir die leiers die kans gegun om daardie spesifieke gedeelte aan almal voor te lees. Hierdie gedeeltes was nie net lukraak gekies nie, maar was die perfekte inleiding om die opleiding af te skop! Kortliks, het die Bybelverse gefokus op integriteit, lojaliteit , diensbaarheid, verdraagsaamheid, verantwoordelikheid en selfdissipline. Dié waardes is noodsaaklik om ‘n leier by Laerskool Raslouw te wees.

Ons leiers het daarna ‘n opvoedkundige speletjie gespeel wat hulle ‘n nuwe uitkyk gegee het oor hoe ‘n ware leier moet dink...

Ons kan dus met vrymoedigheid op ons leiers vertrou hierdie jaar. Ons leiers vir 2020 is: Nadia Oschger, Mia van der Heever, Anna-Mariè van der Dussen, Marné Nel, Crystal Maritz, Jordan Page, Jaco van Niekerk, Drian Smit, Monté Wessels, Edrich Dreyer en Gian van Niekerk

- Juf Chané Bezuidenhout

Leier-uitstappie, 1 Februarie 2020

Son swem en lag. Daar is min dinge wat so lekker is.

Op 1 Februarie het die leiers van Laerskool Raslouw die voorreg gehad om na Hennop's Pride Vakansieoord te gaan vir die dag. Teen 9:00 kon jy die groot opgewondenheid van hierdie groepie van 'n afstand af hoor en sien. Dit het gevoel of jy 'n hele dag van jou lewe verloor het omdat ons na die regte ingang gesoek het. Die probleempie het vinnig in die niet verdwyn nadat Mnr Charlie by ons aangesluit het. Hy het ons gou verduidelik dat die ingang waar ons moes wees eintlik weggesteek is tussen die bome en die dooierige gras.

Die plekkie self is 'n heerlike uitspanplek. Pas daar aangekom, het ons gehardloop om ons swemklere te gaan aantrek. Daar is 2 swembaddens en 4 waterglye wat baie opwindend en aanloklik gelyk het. Hulle het die glybane so teen 10:00 aangesit en toe het die pret eintlik begin... ons het ewe waaghalsig ‘gespeedwalk’ aangesien ons nie kon hardloop nie. Die blou een was wyd en groot en het baie in die rondte gedraai, die ander was smaller en baie vinnig. Die een wat gekrul en gedraai het, was vir die meeste van ons die lekkerste. Ons het tot die slotsom gekom dat die rooi waterglybaan die vinnigte is.

Terwyl Mnr. Charlie 'n oog oor ons gehou het, het hy ook vir ons 'n worsie gebraai. Daar is mos min dinge wat kinders so rasend honger maak soos swem en baljaar. Toe die kos reg was, het ons weggeval en die lekker worsbroodjies verslind. Ons kon ook by die kiosk gaan inloer vir 'n lafenis teen die dors en ietsie soets. Hulle is ook minus twee gegeurde kerse danksy Jaco. Hy het besluit hy wil so bietjie meer geur in sy dag hê. Ons weet tot vandag toe nie hoe gegeurde kerse en 'n leierskamp bymemaar pas nie; nou ja ....so verstaan mens nooit juis alles in die lewe nie.

Daar was ook twee ander ouers wat gedeel het in die pret en help kyk het dat ons darem in een stuk terug by die huis aankom. Aan die einde van die dag was almal uitgebaljaar, seer en nogal moeg, maar ek is seker dit was die beste uitstappie in jare. Met dankbare harte is ons terug huistoe, gemotiveerd om ons bes te doen om die personeel en leerders van Laerskool Raslouw met uitnemendheid en na die beste van ons vermoë te dien.

- Edrich Dreyer (Graad 7)

Valentynsdag, 14 Februarie 2020

Valentynsdag-pret

Op Vrydag die 14de Februarie 2020 om 7:30 het Valentynsdag vir die Ratels begin. Daar was opwinding, samesyn en lewenslustigheid in die lug. Plek-plek was daar ook 'n bietjie liefde en 'n hart wat vinniger geklop het. Sjokolades, pienk en rooi geskenke en 'n paar beertjies het gewys die Ratels is eintlik 'n baie gawe klomp. Die gr. 6 en 7 leerders was veral opgewonde oor die dans.

Die Gr 7’s moes eers bietjie werk en het reggemaak om die Valentynsverkope te doen. Tot groot vermaak van die res het hulle tog te prettig gelyk in hulle blomrompies, kransies en kruisbande. Vrolik en uitbundig is daar na elke klas toe gestap en geadverteer vir die verkope. Pouse en verkope is 'n wenkombinasie saam..., dis soos 'n kar en sy enjin..., dit werk net!

Altesaam het die gr 7's 'n lekker klompie geldjies gemaak omdat die koekies en kolwyntjies op die regte plekke getref het - die hongerkolletjies van die ratelkindertjies. Die ratelmammas weet mos nou al die kosblikke bly by die huis op 'n Vrydag (veral spesiale Vrydae soos Valentynsdag).

Die dans wat die middag plaas gevind het, was 'n baie interessante affêre. Almal het geselsies gemaak en gekuier. Die musiek het bygedra tot die vrolikheid, lag en dans. Die laerskoolkinders het nogal gewonder wat die hoërskoolkinders op die dansbaan aanvang. Teen 14:00 was al die aksie verby en is ons huistoe. Die dag kan beslis opgesom word met die volgende woorde; vet pret!

- Edrich Dreyer (Gr 7)

Mini Atletiek – 21 Februarie 2020

Op 21 Februarie het Raslouw hul eie minI-atletiekdag gehou. Met 'n atletiekbaan, 'n snoepie, pannekoek en die Raslouwgees, wat kan mens nog kort....net die Raslouw Ratels en Sandton Akademie het hul spannetjie gestuur. So het Laerskool Raslouw die kans gekry om te oefen vir die GROOT atletiekdag op 29 Februarie. Die gees was indrukwekkend, almal was opgewonde en entoesiasties.

Nou vir die items....1600m was lank en het baie uithouvermoë geverg. Hartlik geluk aan al die kinders wat daar deelgeneem het, en nog 'n geluk aan die wat plekke gekry het. Die 100m en 80m was 'n toets vir spoed. Een reguit baan , een beginlyn , een eindlyn, ses mense en slegs een wenner. Dit was uithaal en wys dat jy net hakskene sien. Met die 800m was ons vier keer om die 200m baan - dis 'n vinnige pas en voor jy weet, is dit verby. Verder was daar die 400m, 2 maal om die baan, dit lyk dalk kort maar as jy dit self doen is dit 'n ander storie!

Laaste maar nie die minste nie was daar die aflos; 'n span van vier wat moet hardloop asof daar sewe duiwels agter hulle is. Almal opgewonde - jonk en oud aan die gil en spring want daar is niks soos 'n aflos wat die atletiekvuur in jou laat brand nie.

Die snoepie wat pannekoek, worsbroodjies, koeldrank en mento's verkoop het was een reuse sukses. Ons is baie dankbaar vir almal wat kom help het. Ons atletiekdag was 'n fees, wat sy lêplek gekry het in ons geheue van kosbare herinneringe.

- Edrich Dreyer (Gr 7)

Die Groot Atletiek – 29 Februarie 2020

Op die dag het die weer koud begin en later het dit selfs gereën, maar dit het glad nie die uitstekende gees beïnvloed nie!

Daar was omtrent 200 atlete wat blitsvinnig gehardloop het; ongelukkig moes beide die verspring- en hoogspringitems gekanselleer word. Die atlete het van verskillende skole afgekom:

Die Tuisskole, Die Eike, die kleuters van Sandton Akademie en ons eie Raslouw Ratels.

Byna al die deelnemers het medaljes gekry, maar die atlete wat nie pryse gekry het nie, was steeds uitstekend. Die medaljes is oorhandig deur ons hoof, me. Adri Peenz. So van onderwysrs gepraat; daar was ten minste 25 beamptes teenwoordig.

Almal het baie hard gewerk om die dag te reël. Dit was baie lekker, alhowel almal pootuit was teen die einde van die dag.

- Anna-Marié van der Dussen (Graad 6)

Carousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel image
Carousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel image

Redenaarsaand: Senior Primêr

Só ‘n bek moet jam kry!

4 Maart 2020

Die Senior fase van Laerskool Raslouw het op Woensdag, 4 Maart die gehoor vermaak, met fantastiese toesprake! Met temas soos voel, voetspore, letters, liefhê en toekoms het die gehoor behoorlik aan hulle lippe gehang!

Mnr. Dawie en mev. Rina van Wyk was die beoordelaars van hierdie spoggeleentheid. Mnr. Dawie is ‘n oud skoolhoof en mev. Rina die eienares van ‘n kleuterskool.

Laerskool Raslouw se seniorkoor het ook tydens hierdie geleentheid hulle eerste optrede vir hierdie jaar gehad. Met hulle engelstemme, onder leiding van juf. Mari (dirigent) en juf Lindi (begeleidster,) het hulle voorwaar die perfekte atmosfeer geskep vir die deelnemers om met hulle toesprake af te skop!

Die deelnemers was soos volg: Lara Aucamp (gr.4), Matthew Beets (gr.4), Ariné Coetzer (gr.5), Lian Terblanche (gr.5), Elmi van der Dussen (gr.5), Marné Nel, Jade Steenkamp (gr.6), Monté Wessels (gr.6), Edrich Dreyer (gr.7), Nadia Oschger (gr.7), Jordan Page (gr.7) en Drian Smit (gr.7).

Die WENNER van hierdie aand was niemand anders as Marné Nel nie. Met haar tema - liefhê asook haar sprankelende persoonlikheid, het sy beslis die beker verdien!

- Juf Chané
(Dankie vir die organisasie van 'n baie suksesvolle aand, Juffrou! Red.)

Redenaarsaand:
JUNIOR
Primêr

Ons klein bekkies is baie bekkig!

Ons Junior redenaarsaand was ook ‘n groot sukses onder die leiding van juf Mari, bygestaan deur juf Sonja en juf Elmarie. Die jong redenaartjies het behoorlik hulle sê gese! Anna Bester is met die beker bekroon en sy het dit al huppelend ontvang!

Carousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel imageCarousel image

Ons junior koor...

... en ons senior koor!

Regte egte Rateltrots! Die Ratelkore

Ons twee skoolkore word hierdie jaar afgerig deur juffrou Mari en hulle het, onder begeleiding van juffrou Lindi, ons redenaarsaande op ‘n asemrowende toon geopen.

#RATELTAAI “ROBIN HOODS”

Boogskiet is ‘n alledaagse ding vir ons ratse Ratels. Dit is nie maklik om goed in boogskiet te wees of te word nie, maar ons skool doen dit darem van 2016 af en ons het al ons billike aandeel van goue madaljes en ander toekennings gehad. Laerskool Raslouw se skuts eindig in 2019 as Noord-Gauteng kampioene. Verder, het sewe van ons skool se skuts die geleentheid gehad om ‘n Noord-Gauteng hemp oor hul koppe te trek. Hierdie sewe skuts het verlede jaar in September by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem, waar hulle deel was van verskeie spanne.

Sonnika van der Dussen, ons eie Ratel, het op die dag van dié kampioenskappe ‘n bronsmedalje verower tydens die 3D boogskietkompetisie. Baie geluk Sonnika!

Boogskiet is baie lekker, maar daar is ‘n paar reëls wat jy moet onthou. Gelukkig vir ons, het ons vir meneer Charlie, wat ‘n kenner in sy veld is en seker sal maak dat jy nooit die reëls vergeet nie en dat jy altyd sal mik om beter te word. Daar is elf goue reëls van boogskiet, hulle is: “stance, nock arrow, draw-hand set, bow-hand set, pre-draw, draw, anchor, aim, shot set-up, release, follow through and reflect”.

Ons skool was hierdie jaar sover al by drie kompetisies en hier was ons toekennings:

  • Robins Archery Club: 15 Februarie – laerskoolskuts wen goud.

  • Centurion Boogskiet Klub: 22 Februarie – laerskoolskuts wen goud.

  • Centurion Boogskiet Klub (night shoot): 6 Maart – laerskoolskuts wen goud.

Ons volgende kompetisie is die 13de Maart en dit word aangebied deur Rock Falls Ranch. Ons beoog natuurlik om weer die goue medaljes onder die opponente se neuse weg te raap. (Intussen het die kompetisie plaasgevind en ons laerskool het nogmaals die goue medaljes in die spankompetisie opgeraap! Anna-Mariè en Monté het ook individuele medaljes gewen. - Red)

So, vir die res van die jaar – onthou die reëls en lekker skiet!

Jaco van Niekerk (Graad 7) en mnr Charlie

Ons junior Rateltjies is almal jembekkies!!!

Die wyse uiltjies se “Verklarende Woordeboek”

Die Graad een klassie het ons vermaak met hulle pittige antwoorde op ‘n paar eg Afrikaanse woorde wat hul moes beantwoord. So mooi gedink, gesiggies getrek en groottoon in die klasmat geboor... niks so mooi soos dit wat uit die mond van die suigeling kom nie!

Skootrekenaar

‘n Rekenaar wat skoon is, met niks foto’s.

‘n Rekenaar wat sien wat gebeur met jou skoot.

Engel

Hulle is regtig, hulle bly net in die Hemel.

Hulle bly in die hemel saam met Liewe Jesus.

Hulle pas die mense op.

Snuiter

Dis tipe “blaasgoeters” wat ‘n geluid maak.

‘n Skietding, met skietgoeters.

Katjiepiering

Wanneer ‘n kat siek is.

As ‘n katjie toilet toe gaan.

Feetjie

Iets wat nie regtig is nie, hy het vlerkies en is baie mooi.

Diertjies wat vlieg.

‘n Feetjie bly in die tuin maar hulle bestaan nie rêrig nie.

‘n Klein mens met vlerke.

Voetganger

‘n Ding waar jy jou voet insit dan swaai jy hom so.

Dis ‘n voetoorgang.

‘n Mat wat jy jou voete skoon vryf.

Hanetreetjie

‘n Haan wat rondhardloop

Sampioene

Dit klink amper soos skerpioene?

Mushrooms!!!!!!!

Vrugte wat amper soos perskes lyk.

Paddaboudjies

Wanneer ‘n padda op sy boude sit.

‘n Padda wat hop op sy boud.

Botterblommetjie

Nog nooit van dit gehoor nie maar al gesien, dis ‘n blommetjie, hy lyk soos botter.

Dis ‘n blom wat botter maak.

‘n Blom wat lyk soos botter.

‘n Blom wat van botter gemaak is.

‘n Kabouter

Hulle dra sulke “hoete” maar hulle is ook nie regtig nie.

‘n Klein elfie.

Soos ‘n elfie, maar hulle bestaan nie.

Kiestand

Wanneer jou tong jou tand kies.

Nog ‘n paar Ratel-jembekkies:

Anna Bester in Graad 2 se pragtige “Practical Cats”. Kliek op die dokument hieronder om die volledige storie te lees!

PRACTICAL CATS.pdf

Die kleuters is soos Israeliete aangetrek en Juffrou het vir hulle manna (droë broodstukkies) en kwartels (hoender) gegee om te eet. Mianette kou oopmond en Caeden se vir haar: “Mianette die Isrealiete het nie oopmond gekou nie!”

Erika vra vir Mianette of sy die mooi tuintjie by juf Adri se kantoor gien het. Mianette antwoord: “ Ja, die een met die plaas waaiertje!” (windpomp)

Izelle: (Graad 2) Die opgewondeste ding wat met my gebeur het, my tand het uitgeval toe ek ‘n skaaptjop geëet het.”

Juffrou vra vir Eljoné of sy haar voorblaaie gebring het. Sy antwoord: “ Juffrou het nie vir my voorblaaie geggee nie, net duisende papiere met beertjies op.”

Voor die Gr 2 klas staan ‘n boompie wat klein, boontjievormige vruggies dra. Eljoné sê die boompie dra “jellybeans"

Ratels dra mekaar deur dik en dun!

Slotsom

So het ons die einde van ‘n propvol Eerste Kwartaal van 2020 bereik. Die Ratels het g’n tree agteruit gestaan vir enige uitdaging op die akademiese, sport of kutuurgebied nie. Net ‘n woord van dank aan elke gesin wat met ons wonderlike skool enige verbintenis het. Ons weet dat ons niks kon vermag sonder ons Vader se Hand wat elke tree saam met ons gestap het en ons bewaar het nie. Sy Wysheid lei ons deur die jaar en rig ons op die regte pad vir die toekoms. Almal verdien ‘n ruskansie en ons sien uit om die Tweede Kwartaal met nuwe uitdagings aan te pak!

Adri Peenz