Leraarspaar

1 April 2013 tot tans:-

Ds. D.J. (Dawie) en Elaine le Roux

Hierdie pastoriepaar saam met hul drie dogters het hul intrek geneem in die Pastorie op 1 April 2013. Sedert 1994 tot 2014 was hul leraarspaar by die NG Gemeente Brenthurst, Brakpan.

As die jongste van drie kinders het ds. Dawie op ‘n skaapplaas naby Merweville in die Karoo grootgeword. Dit is daar waar sy liefde vir die buitelewe en die natuur vandaan kom. Hy was op Merweville, Prins Albert en in Oudtshoorn op skool en in die koshuis. Op vyftienjarige ouderdom het hy Jesus aanvaar as sy persoonlike Verlosser en op sestienjarige ouderdom het die Here hom geroep om ‘n predikant te word.

Nadat hy gematrikuleer het aan die HTS Oudtshoorn, is hy na die Universiteit van Oranje Vrystaat waar hy die grade BA Teologie en B Teologie verwerf het. Hy was Weermagkapelaan in Johannesburg en Hulpleraar by die NG Kerk Strubenvale, Springs voordat hy na Brenthurst Brakpan beroep is.

Sy vrou, ELAINE, wat hy in Bloemfontein tydens hul studentejare ontmoet het, het ‘n besondere gawe om kleuters en laerskoolkinders te bedien. Sy was ‘n Arbeidsterapeut by ‘n skool vir leergestremdes waar sy haar passie om ‘n verskil in kinders se lewens te maak, uitgeleef het. Sy het verskeie beradingskursusse in spelterapie deurloop. Ten spyte van haar visuele gestremdheid – sy het slegs 2% visie – leef sy voluit, en speel so ‘n belangrike rol in Dawie se bediening.

Hul het drie pragtige dogters as seën op hul huwelik ontvang.

Ds. Dawie is ‘n dosent in die evangelisasiekursus EE III. Hy het vir baie jare motorfiets vir die Christian Motorcyclist Association gery waar hy op uitreike onder die motorfietsryers op saamtrekke gegaan het en het ‘n DVD-opname gemaak waardeur die Boodskap van Hoop onder motorfietsryers versprei word.

Senior lidmate het ‘n baie spesiale plek in sy hart en hy geniet Bybelstudies, spesiale dienste en uitstappies saam met hulle. Hy speel banjo in die Donkiekar Boere-orkes en het al drie CD’s opgeneem. Sy liefde vir boeremusiek bied die geleentheid dat hy tydens Boeremusiek-saamtrekke die Woord daar kan bedien. Hy ry graag motorfiets – ‘n 1400cc Suzuki Intruder – genaamd “Black Thunder”. Hy is dol oor die natuur en lief vir stap, hou van kamp en het ‘n groot belangstelling in die Sterrekunde.

Augustus 2003 tot Desember 2012 :-

Ds. Alwyn en Elfrede Burger


Hier by Die Vleie het Alwyn die geleentheid benut om sy bediening voort te sit. Sy passie was verhoudinge: ‘n Opregte en betekenisvolle verhouding met die Here Jesus, hartlike en meelewende verhoudinge onder Christene en omgee-verhoudinge teenoor alle mense. Sy droom was dat eredienste en ander gemeentelike byeenkomste vrugbare en verrykende ontmoetingsgeleenthede moes wees. Die jonger generasie het hom baie na aan die hart gelê. Hulle het ‘n groot liefde gehad vir koorsang en musiek en was aktief betrokke by aktiwiteite van die gemeente,

Aan die einde van 2012 sluit hulle hul dienstydperk by Die Vleie af en gaan woon hulle in Cola Beach, Sedgefield.