KENNISGEWINGS

KLEINGROEP KERKWEES 2012
Soos ook elders op ons webwerf opgemerk kan word fokus ons hierdie jaar om ons kleingroepbediening uit te brei.
Die besluit om deel van `n kleingroep te word kan dalk die belangrikste besluit van `n mens se lewe wees. Nie net verseker dit geestelike groei in ons lewens, wat ons almal so nodig het nie, maar dit berei ons ook voor vir daardie dag wat elkeen tot rekenskap geroep sal word.
Ons nooi almal, gesinne en/of enkellopendes, uit om deel van ons fokus te word.
Kleinroepe vergader elke aand van die week van Maandae tot Donderdae en dan ook op Vrydag oggende.
Indien u wil aansluit voltooi slegs die "kontakvorm" op die webwerf, meld u naam, adres en u voorkeur van watter tyd u sou verkies om by te woon. Die res sal vir u gedoen word.
Ons sien uit  daarna om u te verwelkom by ons kleingroep familie.
Die Kerkraad.

Suid-Afrika draai terug na God

 `n Inisiatief van die NG gemeente Morelettapark

Die Gemeente van Wonderboompoort word gevra om die groen plakkate met die wit hart en die kruis daarop, wat in die kerk en saal opgesit is, raak te sien en op die byskrif “SUID-AFRIKA DRAAI TERUG NA GOD” te let. Dit het nie net besondere betekenis vir ons land nie, maar ook vir ons gemeente, en ja, uiteindelik ook vir elkeen van ons.

Hierdie plakkate sal ook in die toekoms toenemend op ander plekke soos op motors, geboue, heinings en openbare plekke te sien wees.

Maar waar kom dit vandaan en waaroor gaan dit nou eintlik? Die inisiatief het by ds. Elsa Meyer van die NG Gemeente Moreletapark ontstaan, nadat sy reeds in 2002 die stem van die Here gehoor het wat vir haar gesê het om vir Suid-Afrika te sê om terug te draai na God. Haar dilemma was egter , hoe moet sy, vrou alleen, so `n groot opdrag uitvoer. Alles kan daaroor op die webwerf www.turn2god.co.za gelees word.

Die inisiatief het nou in 2009 verdere momentum gekry toe dit op die Ester en Danielkonferensies en ook op die “Mighty Men “ konferensie van nuuts af bekend gestel en van stapel gestuur is. Ds. Elsa Meyer het die Here se opdrag nagekom. Nou is dit ook in ons hande om dit verder uit te dra en `n verskil te maak.

Die vraag is egter hoe laat mens `n hele land terugdraai na God toe. Is dit nie `n onmoontlike versoek nie? Die antwoord hierop kom baie duidelik uit die woord dat dit wel moontlik is - ons moet net eers by onsself begin, dan ons gemeente en uiteindelik sal die land ook gered kan word.


Suid-Afrika vandag

Ek sou baie kon skryf oor hoe dit in ons land gaan maar dit is alles dinge waarvan u weet. Waaraan ons egter nie elke dag dink nie, is dat die Bybel en selfs gebede, uit die hoogste raadsale van ons land verdwyn het. Is dit nie waar dat duiwelsbesweerders in baie gevalle groter aanhang beleef as wat godsdiens tans beleef nie?

Is dit nie dalk die rede is oor hoekom misdaad, dwelms, losbandigheid en noem maar op, hoogty vier en kerke aan die kwyn is nie?

Die belofte

Eerstens moet ons kennis neem dat dit met die volk Israel by tye net so sleg, en selfs slegter as met ons hier in Suid-Afrika gegaan het.

In 2 Kronieke 7 lees ons hoe die Here een nag vir Salomo vertel het oor wat Hy sal doen as Hy dit baie sleg in die land laat gaan. Dan kom die Here se belofte in vers 13-15.

“As Ek die hemel gesluit hou en daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder die volk stuur, en my volk oor wie My naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.”

In Josua 21:45 staan daar geskryf : “Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.”


As ek en jy, ons eie gemeente en alle kerke in Suid-Afrika, doen wat hierbo geskryf staan naamlik om berou te toon, te bid en na die Here se wil te vra en dan terug te draai na Hom, dan sal Hy mos ook sy beloftes aan ons nakom.

Dit moet ons glo en ons mag nooit daaroor twyfel nie.

My plig

Wat ons nou te doen staan is eintlik baie eenvoudig. Elke keer as jy die plakkaat sien, plaas jou eie naam in die plek van Suid-Afrika. Sluit dan `n nuwe verbond met die Here of herbevestig die bestaande verbond wat jy met Hom het. Draai dan onvoorwaardelik terug na God.

Wanneer ons dit gedoen het sal ons nie net as individue nie maar ook as gemeente baie makliker by ons eie jaartema naamlik “Afhanklikheid van die Heilige Gees veral deur gebed “ uitkom.

1 Tessalonisense 5:17 sê “Bid gedurig.” Doen ons dit?

Mag elke persoon wat hierdie artikel lees die seën van die Heilige Gees ontvang.